Tuesday, February 13, 2007

Geskiedenis


Tot en met die negentiende eeu het Afrikaans slegs as spreektaal bestaan, en Nederlands het as die formele en geskrewe taal gedien. Nederlands was veral die taal van die skool en die kerk, en lidmaatskap van die Nederduits Gereformeerde Kerk het kennis van Nederlands vereis, aangesien net Nederlandse Bybels beskikbaar was.

Die opkoms van koerante het aan mense 'n kans gegee om die eerste bydraes in Afrikaans te publiseer, terwyl lesers vir die eerste keer blootgestel is aan tekste in hulle eie spreektaal. Hierdie vroeë vorm van die Afrikaanse skryftaal is egter nog sterk in die Nederlandse tradisie en is bowendien slegs deur blankes gebruik.

Vir Kaapse Moslems het Afrikaans naas Arabies al in die 19de eeu as 'n volwaardige taal vir die godsdiens gedien, maar dit is meer om praktiese redes gebruik, veral om die Islamse geloof te bevorder. Die Moslemgemeenskap was ook nie by enige formele taalbeweging betrokke nie.

In die 19de eeu doen die blanke Kaapse bevolking steeds baie moeite om Nederlands aan te leer - Nederlands was immers steeds die medium waarin die meeste boeke en ander publikasies geskryf was, en die Nederlandse taal oefen 'n sterk invloed op die ontwikkelende Afrikaanse woordeskat en spelling uit.

Op 14 Augustus 1875 is die Genootskap van Regte Afrikaanders in die Paarl gestig onder leiding van Ds. S.J. du Toit. Hierdie organisasie het hom van meets aan beywer vir die bevordering van Afrikaans en die strewe daarna om die taal stelselmatig uit te bou, onder meer deur middel van 'n Bybelvertaling - 'n taak wat destyds nog nie uitgevoer kon word nie, maar as uiters belangrik vir die ontwikkeling van Afrikaans beskou is.

In ooreenstemming met Wet 8 van 1925, het Afrikaans 'n amptelike taal geword tesame met Engels, en Nederlands as amptelike taal vervang. Die eerste volledige vertaling van die Bybel in Afrikaans is voltooi teen 1933.

Met sy nuwe funksie as amptelike taal het die woordeskat van Afrikaans in die 20ste eeu grootskaals uitgebrei, en intussen het meer as 200 Afrikaanse vakwoordeboeke verskyn. Om die taal, wat oorspronklik 'n eenvoudige kommunikasiemiddel en omgangstaal was, te kon uitbou as 'n medium vir die onderwys, administrasie, literatuur, kunste en wetenskappe, is dikwels na Nederlandse terme teruggegryp om nuwe woorde te vorm. Die verskillende Afrikanse vaktale het intussen ook die internasionale woordeskat, wat op hulle gebiede gebruiklik is, oorgeneem.

Ná 1948 is die besiging van die taal begin gelykstel aan Afrikanernasionalisme en het dit 'n belangrike rol gespeel in die wit minderheidsregering tydens die apartheidsjare. Toe 'n nuwe grondwet in 1996 daargestel is, is Afrikaans behou as een van elf ander amptelike tale in Suid Afrika.

1 comment:

Anonymous said...

praat jy afrikaans ?